Die ontwikkeling van metageletterde Leerders
Daar bestaan vier doelwitte vir metageletterde leerders, waarvan elk ’n aantal leeruitkomste insluit. Terwyl sommige van die metageletterheidsdoelwitte lankal reeds as waardevolle inligtingsgeletterdheidsbeginsels geag word, is daar ook nuwes wat die hedendaagse ontwikkelende inligtingsomgewing weerspieël. Die meeste leerdoelwitte wyk egter veel verder af van tradisionele inligtingsgeletterdheid, gegewe die feit dat die uitkomste in ’n reeks opvoedkundige omgewings toegepas kan word.
Die aanleer van metageletterdheid word in vier areas verdeel: Gedrag (wat studente suksesvol behoort te kan uitvoer nadat die leeraktiwiteite suksesvol voltooi is – vaardighede, bevoegdhede), kognitief (wat studente behoort te weet na die suksesvolle voltooiing van die leeraktiwiteite – begrip, organisering, toepassing, evaluering), affektief (verandering in die leerder se emosies of ingesteldheid deur betrokkenheid met leeraktiwiteite) en metakognitief (wat leerders dink van hulle eie denke – ’n reflektiewe begrip van hoe en waarom hulle leer, wat hulle weet en nie weet nie, hulle vooropgestelde idees, en hoe om aan te hou leer) elke leerdoelwit val onder een of meer van hierdie kategorieë, en word ook sodanig gemerk (G vir gedrag, K vir kognitief, A vir affektiwiteit, M vir metakognisie).
Hierdie leerdoelwitte gee erkenning daaraan dat metageletterde “leerders”, soos hulle hier na verwys word, voortdurend moet leer gegewe ’n voortdurende en vinnig ontwikkelende landskap. Onderriggewers en leerders kan hierdie uitkomste op verskillende maniere bereik, afhangende van die leerkonteks, deur te kies uit ’n verskeidenheid van leeraktiwiteite. Hierdie doelwitte word breedweg opgeneem sodat dit meetbaar, herproduseerbaar en op ’n verskeidenheid van kontekste toeganklik kan wees.
Doelwit 1: Aktiewe evaluering van die inhoud terwyl eie vooroordele ook geëvalueer word
- Verifieer kundigheid maar erken ook dat kundigheid wel bestaan. (A,K)
- Erken dat die inhoud nie noodwendig vir regsgeldige redes geproduseer word nie, en dat vooroordele wel bestaan, beide subtiel en openlik. (K)
- Reflekteer op hoe jy voel oor inligting of ’n inligtingsomgewing sodat veelvuldige perspektiewe oorweeg kan word. (A.M)
- Soek bewustelik na inligting vanuit ’n spektrum van menings en bronne. (G)
- Stel vas hoe die doel van ’n bron, tipe dokument en leweringswyse die waarde daarvan in ’n spesifieke situasie beïnvloed. (G,K)
- Onderskei tussen redaksionele kommentaar en navorsingsgebaseerde perspektiewe; erken dat waardes en geloofsoortuigings in alle bronne van inligting vervleg is. (K)
- Stel die waarde van formele en informele inligting uit diverse aanlyn bronne vas, byvoorbeeld akademiese artikels, gebruikergegenereerde bronne en oop opvoedkundige hulpbronne (OOH’e). (K)
- Evalueer gebruikergegenereerde inligting in die sosialemediaomgewing en onderskei tussen menings en feite. (G,K)
- Evalueer inligting krities uit alle bronne, insluitend dinamiese inligting wat aanlyn sirkuleer. (G)
- Ondersoek hoe jy voel oor die inligting wat aangebied word en hoe dit jou reaksie beïnvloed. (A,M)
Doelwit 2: Etiese en verantwoordelike omgang met alle intellektuele eiendom
- Onderskei tussen die produsering van oorspronklike inligting en die vervlegting van oop gelisensieerde inhoud. (K)
- Daag jouself uit om etiese en nuwe benaderings te formuleer ten einde op die idees van ander, wat jy opwindend en boeiend ervaar, te bou (A, M)
- Reflekteer op hoe jy op ‘n effektiewe en etiese wyse iemand anders se intellektuele eiendom in jou eie oorspronklike en vermengde produkte kan integreer. (M)
- Verantwoordelike produsering en deel van oorspronklike inligting en die etiese vervlegting en herbenut van oop gelisensieerde inhoud.(G)
- Onderskei tussen openbare en persoonlike inligting en die maak van etiese besluite ten opsigte van die aanlyn deel van inligting. (K)
- Onderskei tussen kopiereg, Creative Commons-lisensies en oop lisensies in beide die skep en lisensiëring van oorspronklike inhoud en inhoud wat herbenut word. (G,K)
- Identifiseer en volg die spesifieke erkenningsverwagtinge van die intellektuele eiendom in die omgewing waarin jy werk. (G,K)
Doelwit 3: Produsering en beskikbaarstelling van inligting in samewerkende en deelnemende omgewings
- Sien jouself as ’n produsent sowel as ’n verbruiker van inligting. (A,M)
- Neem bewustelik en eties deel in samewerkingsomgewings. (G)
- Beskerm persoonlike privaatheid en wees aktief in die beskerming van jou aanlyn inligting. (G,K)
- Deel inligting akkuraat en doeltreffend tydens die produsering van inhoud deur gebruik te maak van toepaslike ontwikkelende formate en platforms. (G)
- Vertaal inligting wat voorgelê word sodanig dat dit ten beste in die behoeftes van ’n spesifieke gehoor sal voorsien. (G,K)
- Erken dat leerders ook onderwysers is en leer hulle wat jy weet of onderrig hulle in ’n samewerkende omgewing. (A,G,K)
- Evalueer en verifieer gebruikergegenereerde inhoud krities en pas dit toe op die skep van nuwe kennis. (A,G,K)
- Gee erkenning aan diverse kulturele waardes en norme om inligting te skep en beskikbaar te stel vir globale gehore. (G,K)
Doelwit 4: Ontwikkel leerstrategieë om lewenslange persoonlike en professionele doelwitte te bereik
- Erken dat leer ’n proses is en dat refleksie op foute kan lei tot nuwe insigte en ontdekkings. (M)
- Assesseer leer om beide die kennis wat ingewin is en die gapings wat daar in begrip mag bestaan te bepaal. (K,M)
- Erken dat kritiese denke van vakkennis afhang en streef na ’n dieper begrip deur middel van ondersoek en navorsing. (A,G,K,M)
- Heg waarde aan volharding, aanpasbaarheid en buigsaamheid in lewenslange leer. (M)
- Pas aan by nuwe leersituasies en wees terselfdertyd buigsaam ten opsigte van die verskillende benaderings tot leer. (A,G)
- Pas aan en verstaan nuwe tegnologieë asook die impak wat dit op leer het. (A,G)
- Kommunikeer doeltreffend en werk saam in gedeelde ruimtes om van verskeie perspektiewe te leer. (G,K)
- Raak betrokke in ingeligte, selfgerigte leer wat ’n breër uitkyk op die wêreld bevorder deur die globale reikwydte van die hedendaagse sosialemediaomgewing. (G,M)
- Pas metageletterdheid toe as ’n lewenslange waarde en praktyk. (M)
Trudi Jacobson (University at Albany), Tom Mackey (Empire State College), Kelsey O’Brien (University at Albany), Michele Forte (Empire State College) en Emer O’Keeffe (Schalmont School District)
Hersien 11 April 2018. Doelwit 2, uitkoms 2 en 3 is op 27 Februarie 2020 bygevoeg na aanleiding van ‘n bydrae van Jacob Keiffert.
2014 Doelwitte en Leeruitkomste
Doelwit 1: Kritiese evaluering van die inhoud insluitend dinamiese aanlyn inligting wat verander en ontwikkel, byvoorbeeld voorpublikasieartikels, blogs en wiki’s
- Plaas die bron van inligting in konteks (byvoorbeeld doel van die outeur, formaat van die inligting, en die afleweringswyse) ten einde die waarde van die materiaal vir die spesifieke situasie vas te stel (G,K)
- Onderskei tussen redaksionele kommentaar en inligting wat vanuit ’n meer navorsingsgebaseerde perspektief vrygestel is, en erken dat waardes en geloofsoortuigings in alle inligting vervleg is. (K)
- Stel die waarde van formele en informele inligting vanuit verskeie netwerkhulpbronne vas (akademiese artikels, gerbruikergegenereerde inligting, oop opvoedkundige hulpbronne (OOH’e), ens.) (K)
- Evalueer die gebruiker se reaksie as ’n aktiewe navorser, en verstaan die verskillende aarde van terugvoermeganismes en kontekste in tradisionele sowel as sosialemediaplatforms. (G,K)
- Kritiese waardering van die belangrikheid van evaluering van inhoud vanaf verskillende bronne, insluitend dinamiese inligting vanuit sosiale media. (A)
Doelwit 2: Verstaan persoonlike privaatheid, inligtingsetiek en intellektuele eiendomskwessies in veranderende tegnologiese omgewings
- Onderskei tussen die vervaardiging van oorspronklike inligting en vervlegting van of herbenutting van oop hulpbronne. (K)
- Onderskei tussen die tipes inligting wat toepaslik is vir reprodusering en openbare bekendstelling, en private inligting wat in ’n meer beperkte en diskrete omgewing versprei word. (K)
- Gebruik tegnologie om ’n positiewe teenwoordigheid op die web te vestig.
- Pas kopiereg en Creative Commons-lisensiëring toe wat van toepassing is op die skep van oorspronklike of herbenutte inligting. (G)
- Gee erkenning aan die etiese oorwegings van gedeelde inligting. (A)
- Gee uiting aan die noodsaaklikheid van erkenning by die leen van intellektuele eiendom aan ander, ongeag van die formaat daarvan. (A)
- Identifiseer die konteks waarvoor daar akkurate erkenning benodig word en pas daardie erkenning konsekwent toe. (K,G)
Doelwit 3: Deel van inligting en samewerking in ‘n verskeidenheid van gemeenskaplike omgewings
- Neem bewustelik deel in samewerkingsomgewings. (G)
- Neem verantwoordelikheid vir deelname in samewerkingsomgewings. (A)
- Vergelyk die unieke kenmerke van verskillende inligtingsformate (bv. akademiese artikels, blogs, wiki’s en die aanlyn gemeenskap), en maak gebruik van die vermoë om dit effektief te gebruik en inligting aan te haal ter ontwikkeling van die oorspronklike inhoud. (G)
- Beskryf die potensiële impak van die aanlyn hulpbronne ter wille van die deel van inligting (teks, beeld, video en ander media) in samewerking met andere. (A)
- Demonstreer die vermoë om inligting vanaf een manier na ’n ander te vertaal sodat daar aan die behoeftes van spesifieke gehore voldoen kan word. Integreer inligting van veelvuldige bronne in ’n samehangende nuwe vorm. (M,K)
- Kommunikeer persoonlike en professionele ondervindinge doeltreffend om ander in te lig en te help; erken dat leerders ook onderwysers kan wees. (A,G)
- Produseer oorspronklike inhoud wat toepaslik is vir die spesifieke behoeftes in veelvuldige media formate; oordrag van kennis wat ingewin is na ’n nuwe formaat in ’n onvoorspelbare en ontwikkelende omgewing. (G)
- Ontwikkel ʼn waardering vir gebruikergegenereerde inhoud en evalueer bydraes van ander krities; sien jouself as ʼn produsent sowel as ʼn gebruiker van die inligting. (A)
- Wees oop vir globale perspektiewe; gebruik kommunikasie met ander in ’n globale konteks om diepleer aan te moedig (A)
Doelwit 4: Demonstreer die vermoë om die leerproses en navorsingstrategieë met lewenslange leerprosesse en persoonlike, akademiese en professionele doelwitte te verbind
- Bepaal die omvang van die vraag of vereiste taak om aan jou behoeftes te voldoen. (K)
- Herevalueer behoeftes en daaropvolgende stappe dwarsdeur die proses. (K)
- Demonstreer die belangrikheid daarvan om inligtingsbehoeftes en soekstrategieë met behoorlike soekinstrumente bymekaar te pas. (A)
- Gebruik selfrefleksie om jou eie leer en kennis van die leerproses te assesseer. (M)
- Demonstreer die vermoë om krities in konteks te kan dink en om die kritiese denke oor te dra in ’n nuwe leerervaring. (M)
- Waardering vir volharding, aanpasbaarheid en buigsaamheid. (M)
- Doeltreffende kommunikasie met samewerkers in gedeelde ruimtes en leer van veelvuldige opinies. (M)
- Erken dat leer ’n proses is en dat refleksie op foute lei tot nuwe insigte en bevindinge. (M)
- Betrokkenheid in ingeligte, selfgerigte leer wat ’n breë wêreldsiening bevorder deur die globale reikwydte van die hedendaagse inligtingstegnologie. (M)
- Demonstreer selfbemagtiging deur interaksie en die voorlegging van idees, verkryging van die vermoë om te sien wat oordraagbaar, vertaalbaar en onderrigbaar is (leerders is beide studente en onderwysers). (M)
- Kom tot die gevolgtrekking dat metageletterdheid ’n lewenslange waarde en praktyk is. (M)
Ontwikkel deur deelnemers betrokke in die SUNY Innovative Instruction Technology Grant, Developing a SUNY-wide Transliteracy Learning Collaborative to Promote Information and Technology Competencies for the 21stCentury, based on objectives in Mackey and Jacobson, Reframing Information Literacy as a Metaliteracy, C & RL, 72.1 January 2011 http://crl.acrl.org/content/72/1/62.full.pdf+html
Michele Forte (Empire State College), Trudi Jacobson (University at Albany), Tom Mackey (Empire State College), Emer O’Keeffe (University at Albany), en Kathleen Stone (Empire State College)
Bykomende medewerkers: Richard Fogarty (University at Albany), Brian Morgan en Kim Davies-Hoffman (SUNY Geneseo), Jennifer Ashton en Logan Rath (SUNY Brockport), Carleen Huxley (Jefferson Community College), en Nancy E. Adams (Penn State Hershey)
Opgedateer 11 September 2014
Afrikaans translation October 1, 2019 by the North-West University UNESCO Chair on Multimodal Learning and Open Educational Resources